Thursday, October 9, 2014

Nina en die spinnekoppe...

Die afgelope week het ek die voorreg om saam met skrywer Elizbe van der Colff, aan haar lokfilm (teaser) vir haar nuwe boek Nina en die funky eksperiment te werk.

Ons het eers by my tuis-ateljee bymekaar gekom om van die tonele op te neem, en 'n paar dae later in 'n stowwerige kamer opgeëindig, waar ons die solder-toneel opgeneem het. Dit was 'n baie meer opwindende dag as wat ons beplan het.

Eerstens kan ek net sê dat ek, Elizbe, 'n spieël en 'n hammer nie 'n goeie kombinasie is nie. Tweedens moes ek langbeenspinnekop na langbeenspinnekop uit die "solder" verwyder, aangesien my Nina en Jessie andersins sou weier om daar in te gaan. (So tussen my en jou, ek hou ook nie van spinnekoppe nie...)

Ek ken al 'n hele paar jaar vir Elizbe en ek het haar eerste boek Nina en die wacky hare baie geniet, alhoewel die tema (kopluise, van alle dinge!) meeste mammas se hare laat rys. Hierdie boek het die  ATKV Kinderboektoekenning in 2013 gewen en die nuwe Nina-boek stel nie teleur nie.



Hierdie keer is Nina op die spoor van 'n vreemde wetenskaplike, terwyl sy graag nog wil probeer om die hoogspring by die atletiekbyeenkoms te wen. Dan is daar nog die wetenskapklas-eksperiment-kompetisie, wat jou 'n VIP vir 'n dag kan laat word!

Maar dinge met die oefenery vir die atletiekbyeenkoms is nie pluis nie, en Nina en Jessie moet al hulle vernuf gebruik om Laerskool Tierkop van 'n bose plan te beskerm...

Daar is nog 'n paar finale "touches" wat gedoen moet word, maar hou gerus 'n oog op my blog vir wanneer die lokfilm voltooi is.

As jy nie kan wag nie, gaan koop solank die boek en kyk die filmpie later...

Soek jy iemand om te help met fotografie of ontwerp? Kontak my gerus, of besoek my webwerf.

Comment using Facebook:

Or use Blogger comment area: